Farm Murders


‘My pa moet my net in die kerk kan inbring…’
May 28, 2010, 8:51 pm
Filed under: Uncategorized


Mnr. Piet Swart (58) en sy vrou, Ria (53)

2010-05-28 00:38
Nicolize van der Walt

Klerksdorp. – “My pa moet my net een van die dae in die kerk kan inbring wanneer ek trou. ’n Mens voel bitter en ’n mens voel baie, baie kwaad…”

Aan die woord is me. Linki Swart (24) nadat haar ouers, Piet (58) en Ria (53), gisteroggend op die Kafferskraal-hoewes in die Wesselsstraat-verlenging deur vyf mans oorval is.

Linki trou op 10 Julie met Nardus Lombaard, ’n lid van die Noordwes Luiperds-rugbyspan.

Die Swart-egpaar is in ’n huisrooftog met ’n AK47, ’n R1 en ’n 9mm-pistool aangehou, geskop en geslaan waarna mnr. Swart in die been geskiet is.

Volgens sy seun, Cornel (20), is sy pa se been versplinter en sou hy gisteraand eers ’n bloedoortapping kry voordat hy ’n operasie aan die been sou ondergaan.

Hy is in die waakeenheid.

Sy vrou, wat ’n hart- en hoë bloeddruklyer is, word in dieselfde hospitaal behandel.

“Dit lyk asof daar ’n brief in die rowers se besit gekry is met twee adresse op; een adres is my pa hulle s’n en die ander my oom-hulle s’n wat sowat 500m verder bly. Ons het ook gehoor hulle vermoed die aanvallers was uit op borgtog.”

Volgens hom het sy pa verwoedelik terugbaklei, maar sy aanvallers het hom heeltyd grond toe gedwing en geskop.

“Hulle het die pistool teen sy kop gedruk en toe my ma getakel. Hulle het daarna my ma se hande met kabelbinders vasgebind en is weg met vuurwapens, selfone en juwele en ’n voertuig wat nie werklik meer gebruik word nie,” sê Cornel.

Die voertuig is later die oggend verlate in Khuma naby Stilfontein gekry.

“Dis baie sleg vir my ma. Hulle vermoed sy het harsingskudding. Sy wil nie regtig weer teruggaan plaas toe nie. My pa dien op die bestuur van die Atemelang-skuiling, hy gee om vir mense en is goed vir hulle.

“Dis asof hierdie aanvalle net erger raak ná Eugène Terre’Blanche se moord,” sê Linki.

Die Swart-egpaar bly reeds 20 jaar lank op die hoewe.

Mnr. Fanie Terblanche, DA-raadslid in die stad, het gesê sy swaer en skoonsuster is verniel.

“Sy is ’n klein en fyn vroutjie. Haar gesig is so geswel. Dis bitter sleg…”

Mnr. Swart was 30 jaar lank ’n rekenmeester by AngloGold Ashanti.

Insp. Sam Tselenyane, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Ek weet nie of die verdagtes uit is op borgtog nie.
“Hulle is nog nie in hegtenis geneem nie, so ek het nie daardie inligting nie. Ons ondersoek klagte van huisroof en poging tot moord.”

Mnr. Chris Hattingh, provinsiale leier van die DA, het sy kommer uitgespreek oor die vlaag van plaasaanvalle die laaste tyd.

“Die plaasaanvalle is besonder gewelddadig en enkelinge of bejaarde egpare word gewoonlik deur ’n aantal gewapende rowers, gewoonlik drie of vier, aangerand en gemartel.

“Die lafhartige en slu optrede van die aanvallers is opvallend.

“Die herhalende aanvalle waarby verhoorafwagtendes, gewoonlik vrygelaat op borgtog in afwagting op verhore oor vorige plaasaanvalle, betrokke is, is kommerwekkend en oproepe uit die geteikende landbougemeenskap dat die regstelsel toenemend medepligtig is, kan nie langer verontagsaam word nie.”

Oorsprong: Beeld


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: