Farm Murders


‘Ek haat wittes,’ skree generaal glo ná soldaat kollega aanspreek
May 4, 2010, 9:42 pm
Filed under: Uncategorized


Brig.genl. Nontobeko Mpaxa Foto: Felix Dlangamandla

2010-05-03 23:19
Erika Gibson

’n Sersant-majoor van die Leër-gevegopleidingsentrum by Lohatlha in die Noord-Kaap gaan hof toe nadat sy bevelvoerende generaal glo vir hom gesê het sy “haat wittes” en op die grond voor hom gespoeg het.

Dit het glo gebeur nadat die sersant-majoor in opdrag van die generaal gearresteer is. ’n Been in sy arm is tydens die arrestasie gekraak.

Nou het ao. At Malan van die sentrum se arbeidsverhoudinge-afdeling klagte teen sy bevelvoerende generaal en die minister van verdediging by die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Militêre Polisie-agentskap (MPA) ingedien, terwyl hy ook met ’n siviele geding teen haar begin het.

Adv. Gert van Niekerk van Pretoria het bevestig hy is namens Malan besig met regstappe.

Dit is nie die eerste keer dat die bestuurstyl van brig.genl. Nontobeko Mpaxa, die generaal, op ’n konfrontasie uitloop nie.

Sy het glo al ’n ondergeskikte geklap. Malan meen egter dié keer het dinge te ver gegaan.

Die konfrontasie het die aand van 31 Maart vanjaar begin toe Malan glo ’n militêre polisieman met ’n militêre voertuig by ’n drankwinkel in Postmasburg aangepraat het.

Die volgende oomblik is Malan se arms geboei omdat die polisieman gemeen het hy is besope en dat hy dronk bestuur.

Hy is by die militêre voertuig ingeboender waartydens sy arm glo gekraak en sy nek seergemaak is.

Malan beweer in sy eedsverklaring Mpaxa het die ondersoekkamer in die hospitaal waarheen hy geneem is om sy beserings te laat ondersoek, binnegestorm.

Sy het die dokter glo verhinder om ’n behoorlike ondersoek uit te voer. ’n Private dokter het later laat x-straalfoto’s neem wat die breuk en die beserings duidelik gewys het.

Mpaxa en haar drywer het hom volgens die verklaring glo ook agtervolg en sy het by geleentheid herhaaldelik vir hom geskree: “I hate you; I hate you!” en op die grond gespoeg.

Onder-offisiere het haar tot bedaring probeer bring, maar sy het haar glo nie daaraan gesteur nie.

Die SAPD wou luidens die verklaring nie die dronkbestuur-saak teen Malan verder voer nie en die militêre polisiemanne het hom oornag in ’n kamer op Lohatlha toegesluit.

Toe hy die volgende dag ingevolge die militêre gebruik amptelik oor die klag teen hom ingelig moes word, kon die MPA geen klagstaat indien nie omdat hulle glo nie geweet het waarvan om hom aan te kla nie.

Malan sê in sy verklaring hy is ’n pligsgetroue soldaat wat die afgelope drie jaar merietebonusse vir sy goeie werk gekry het. Hy voel verneder en sy waardigheid is aangetas.

Lt.genl. Solly Shoke, leërhoof, het gesê nóg hy nóg die leër gaan nou kommentaar lewer aangesien regsprosesse aan die gang is.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Ek-haat-wittes-skree-generaal-glo-n%C3%A1-soldaat-kollega-aanspreek-20100503


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: