Farm Murders


80-jarige geskiet vir klein radio, selfoon
May 2, 2010, 5:49 pm
Filed under: Uncategorized

2010-05-01 13:11
Virginia Keppler, Beeld

‘n 80-jarige man van ’n kleinhoewe by Kameeldrift, wes van Pretoria, is Vrydag om 02:00 in sy bed oorval en in die maag geskiet nadat ’n kombers oor sy kop getrek is.

Die koeël wat in sy buik opgeëindig het, het mnr. Jan du Toit ook rakelings in die arm getref. Sy aanvallers, vermoedelik twee mans wat die gemeenskap al etlike jare lank teister, het met net ’n klein draagbare radio en selfoon gevlug.

Daarna het Du Toit bloeiend sowat 50 m ver na die huis van sy dogter en skoonseun, mev. Paula en mnr. Connie Kok, gestrompel.

Hy is tans in ’n ernstige toestand in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria waar ’n operasie van langer as twee uur gisteroggend op hom uitgevoer is om skade aan sy ingewande te herstel.

Mev. Lettie Kok (77), mnr. Kok se ma, het gesê die aanvallers het Du Toit se skuifdeur oopgebreek en toe sy slaapkamerdeur, wat gesluit was, oopgeskop om by hom uit te kom.

“Die rowers het toe ’n kombers oor sy kop gedruk en hom geskiet. Hulle het seker die kombers oor sy kop getrek sodat hy hulle nie moet sien nie.”

Daarna het hulle Du Toit se selfoon en ’n klein radio wat op sy bedkassie langs sy bed gestaan het, gesteel en gevlug.

By sy dogter en skoonseun se huis het hy aan hul slaapkamervenster geklop.

Mev. Kok het gesê die kinders het dadelik opgespring en met Du Toit hospitaal toe gejaag. “Terwyl hulle hospitaal toe is, het ek ’n buurman gebel wat dadelik die polisie ontbied het.”

Volgens haar was die polisie binne 15 minute op die toneel.

Du Toit se kamer was gister vol bloedspatsels en sy Bybel het op die vloer gelê. Daar was nog ’n Bybel in ’n laai op die vloer.

Die bedkassie het ook ’n ent van die muur en bed gestaan, waarskynlik soos die boewe dit uitgetrek het op soek na waardevolle besittings.

“Ons is erg geskok. Ek weet nie hoe ek vanaand gaan slaap nie, want my senuwees is regtig klaar,” het mev. Kok, wat ook op die hoewe bly, gesê.

Sy het gesê ’n jaar gelede het hulle ook by Du Toit ingebreek, “maar hulle het net sy goed gevat en hom nie seergemaak nie”.

Mnr. Christo Kok, nog ’n seun van mev. Kok, het gesê Du Toit het sy aanvallers as een lang man en een kort man beskryf. “Ek blameer die mense wat onwettige immigrante in diens neem en hulle op hul eiendom aanhou,” het hy gesê.

Me. Hettie Jordaan van die landelike beveiligingsektor het gesê Du Toit se beskrywing stem ooreen met dié van twee misdadigers wat die gemeenskap al die afgelope sewe jaar teister.

“Ons het nou ’n R10 000-beloning wat ons aan ’n persoon sal gee wat ons help om dié verdagtes en veral mnr. Du Toit se skieter aan te keer,” het Jordaan gesê.

Insp. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek klagte van gewapende roof en poging tot moord.

Oorsprong:Nuus24
http://www.nuus24.com/Suid-Afrika/Nuus/80jarige-geskiet-vir-klein-radio-selfoon-20100501


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: