Farm Murders


Onwettig van Zimbabwe tot in Suid-Afrika… in net 15 sekondes
April 30, 2010, 11:24 pm
Filed under: Uncategorized

2010-04-28 23:46
Erika Gibson

Musina

Die weermag kan binne sy huidige begroting slegs sowat 600 soldate (vier kompanies) verskaf om die Zimbabwiese grens van 220 km te patrolleer.

Om die beplande 16 kompanies van nou af vorentoe te ontplooi, sal ’n aansienlike ekstra bedrag aan die weermag toegeken moet word.

Dit gaan boonop R16 miljoen kos om die sensors in die grensheining te herstel. Die onderhoud daarvan beloop ’n verdere R6 miljoen tot R7 miljoen per jaar.

Die heining se sensors werk glad nie meer nie en die soldate op hul voete aangewese om die grenslyn te patrolleer.

Die sensors is elke 10 km aan ’n eggo-stasie gekoppel, waar die sensors ’n alarm laat afgaan as dit versteur word. Niks van die stelsel werk tans nie.

Die weermag het sedert April die grensbewakingsrol weer amptelik by die polisie oorgeneem, maar ook hier blyk verwarring te wees.

Tydens ’n besoek van die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging aan die grensbasisse vandeesweek het mnr. Mnyami Booi, voorsitter van die komitee, gevra hoekom die soldate onder “haglike” omstandighede in die veld moet bly.

Terselfdertyd is dit duidelik dat die polisie nog nie onttrek het nie en die meeste van die behoorlike verblyfgeriewe beset.

Die weermag sou einde Maart die geriewe wat hy in 2005 aan die polisie oorhandig het weer begin oorneem het.

Die grootste gedeelte van die polisiekontingent is egter steeds teenwoordig, al het die soldate reeds die werk begin doen.

Die driedubbele grensheinings keer duidelik niemand nie, met plek-plek oopgeknipte gedeeltes groot genoeg vir ’n voertuig om deur te ry.

Volgens kol. Lucas Delport van die weermag se gesamentlike operasiesentrum is die rekordtyd vir ’n onwettige immigrant om oor al drie heinings te klouter 15 sekondes. “Dit maak dit onmoontlik vir ons om betyds te reageer as ons nie elektroniese stelsels het om ons te help nie,” het hy gesê.

Die kontrakteur, wat destyds nog deur die weermag aangestel is om die instandhouding van die grensheining te behartig, het in Desember verlede jaar bankrot gespeel.

Sedertdien het die elektroniese gedeelte van die heining geheel en al verval, terwyl die lemmetjies- en ander heinings eenvoudig met tange oopgeknip word.

’n Nuwe tender sal op die vroegste in September vanjaar toegeken kan word, maar die weermag het nie daarvoor begroot nie aangesien die grootskaalse herontplooiing op die grense skielik gekom het.

’n Genie-kompanie van die weermag word eersdaags ontplooi om net die ergste skade aan die grensheining te herstel. Die eerste kompanie van 44 Valskermregiment, Bloemfontein, wat reeds daar is, sal teen die einde van die maand met nog twee kompanies van hul makkers aangevul word.

Volgens lt.kol. Johan Herbst, waarnemende bevelvoerder van die taktiese hoofkwartier Limpopo in Musina, het die weermag vanjaar reeds 9 049 onwettige immigrante by dié grens in hegtenis geneem. Dit bly ’n onbegonne taak om die instroming te keer.

– Die Burger

Oorsprong:Die Burger
http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/Onwettig-van-Zimbabwe-tot-in-SuidAfrika-in-net-15-sekondes-20100428


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: