Farm Murders


Baba se aanranding skok die hele land
April 25, 2010, 9:23 pm
Filed under: Uncategorized


Die speelgoedboks waarin Marzaan Kruger ’n babapop vir haar eerste verjaardag gekry het, enkele dae voordat sy erg aangerand is deur huisrowers. Foto: Herman Verwey

2010-04-25 00:15
Erna van Wyk in Johannesburg
evanwyk@rapport.co.za

Suid-Afrikaners het met afgryse gereageer op die gewelddadige aanval op ’n babadogtertjie tydens ’n huisrooftog.

Klein Marzaan Kruger, wat net twee dae voor die aanval haar eerste verjaardag gevier het, was gisteraand nog in ’n bedenklike toestand.

Marzaan en haar oppasser, me. Francina Sekhu, is Donderdag erg aangerand in haar ouerhuis in Johannesburg. Ook Sekhu, wat in die Helen Joseph-hospitaal is, se toestand was gisteraand nog bedenklik.

Me. Liezl Furlong, woordvoerder van die Sandton Medi-Clinic, waar Marzaan in die waakeenheid vir kinders behandel word, het gisteraand gesê onder omstandighede gaan dit goed met haar ouers, mnr. Bertus en mev. Madelein Kruger.

“Hulle word ondersteun deur familie, vriende en kollegas, asook ’n ongelooflike reaksie van die publiek. Die publiek is erg geraak hierdeur en ons word oorval met oproepe van ondersteuning.”

’n Gebedsgroep is ook op Facebook begin.

Marzaan het ernstige kopbeserings opgedoen. Sy het nie asemgehaal nie toe mev. Kruger op haar en die vasgebinde Sekhu in die huis afgekom het. Sekhu was ook bewusteloos en het verskeie wonde aan haar kop gehad.

Me. Nomvula Mokonyane, premier van Gauteng, het Vrydag uitgevaar. Dié voorval spreek boekdele oor “hoe laag ons in terme van menswaardigheid gedaal het”, het sy by monde van haar woordvoerder gesê.

Mokonyane het gesê sy gaan druk op die polisie sit om die skuldiges spoedig vas te trek. Die saak word ondersoek deur die Trio-taakspan wat prioriteitsmisdade soos rooftogte by huise en sakeondernemings ondersoek.

Slegs 24 uur voor die gru-aanval het genl. Bheki Cele, polisiehoof, sy kommer uitgespreek oor waarom Suid-Afrikaners so “uiters, uiters gewelddadig is”.

Hy het vertel van kapers wat onlangs in Manchester, Engeland, met die wegry besef het daar is ’n baba agter in die kar. Hulle het omgedraai en die baba aan sy ouers terugbesorg.

“In Suid-Afrika sou hulle die baba by die venster uitgegooi het,” het Cele tydens ’n inligtingsessie aan Rapport gesê.

Gister het ’n leë pienk speelgoedpop-boks by die vullisdrom voor die Krugers se huis in Robindale, Johannesburg, uitgesteek.

Dít was ’n stille herinnering aan die vreugde van Marzaan se eerste verjaardagpartytjie verlede Saterdag en in skrille kontras met die verskriklike geweld wat sy en Sekhu ervaar het.

Die Krugers se huis is slegs twee kilometer van die Linden-polisiekantoor.

Sekhu het ’n jaar gelede saam met die familie van die Vrystaat na Johannesburg getrek.

Die vorige eienaars van die Krugers se huis het verhuis nadat daar die tweede keer by hulle ingebreek is.

“Dié straat het nogal baie inbrake, veral met die parkie hier naby,” het een buurvrou gesê.

Die polisie wil nie ’n woord rep oor hoe die ondersoek vorder nie.

* Ses navorsingsverslae oor waarom misdaad in Suid-Afrika so gewelddadig is en wat daaraan gedoen kan word, lê al die laaste drie jaar en stof opgaar.

“Die verslae is ’n grootskaalse poging deur die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR) om vrae te beantwoord oor die aard van geweld in die land, asook hoe om dit aan te pak,” het mnr. David Bruce, senior navorser by die CSVR, gister gesê.

Die laaste poging om die regering se aandag op die verslae, insluitend die finale verslag, te vestig het in Maart vanjaar gefaal. Toe het die portefeuljekomitee ’n bespreking daaroor gekanselleer. Die polisie se nuwe range is toe eerder bespreek as ’n verslag wat verduidelik hoekom erge geweld dikwels deel vorm van misdaad in Suid-Afrika.

“Die verslae help ook om die probleme te takel met die implementering van beleid, die leemtes in kapasiteit en die kwaliteit van die bestuur op regeringsvlak,” het Bruce gesê.

“Hopelik sal die portefeuljekomitee met die sitting in September daaraan aandag gee.”

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Baba-se-aanranding-skok-die-hele-land-20100424


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: