Farm Murders


‘Ons sal ons nie laat doodmaak’
April 12, 2010, 9:16 pm
Filed under: Uncategorized


Mnr. Eugéne Terre’Blanche vee ’n traan weg terwyl hy vertel van ’n grusame moord op ’n ma en dogter in die Vrystaat verlede jaar. Agter hom is foto’s van Boereleiers in sy kantoor in sy huis op Ventersdorp.

2010-04-10 23:00
Herman Jansen

“Ja, ek het nog ’n hele paar goeie gevegsjare oor.”

So het die vermoorde AWB-leier, mnr. Eugène Terre’Blanche, in sy laaste onderhoud net meer as ’n maand gelede aan ’n Belgiese rolprentspan gesê.

Terre’Blanche is verlede Saterdag laatmiddag grusaam vermoor toe hy op sy bed in ’n kamer op sy plaas Witrandjiesfontein naby Ventersdorp aangeval is.

Dié uur lange onderhoud vorm deel van die dokumentêre program The Boer on the Border oor die krisis waarin plaasboere in Suid-Afrika vandag verkeer.

Agter sy lessenaar in sy huis in Ventersdorp, in ’n ligblou hemp en ’n bordjie met die woorde “Hoofleier AWB” voor hom, het Terre’Blanche gekorswel met die span van mnr. Ben Bellefroid, uitvoerende vervaardiger van African DreamworX.

“Hoe oud is u?” is Terre’Blanche (69) reg aan die begin gevra.

“Ek kan nie onthou of ek 16 of 17 is nie,” het hy gespot.

“Nee, ek is 65. Ek het nog ’n hele paar goeie gevegsjare oor.”

Hy is toe gevra waarvoor hy veg.

“Vir die vryheid van my volk. Vir die reg om sy eie land en eie gebied te hê. Alle oorloë van die Bybel se tyd af het gegaan oor grond. Die Tswanas het hulle grond, die Xhosas en die ander. Maar daar is net een ou volkie aan die suidpunt van Afrika wat nie grond het nie. Die Boervolk, die room van Europa, wat bereid was om in die wildernis te gaan bly. Om vry te wees, om hul God te kan dien.”

Oor plaasaanvalle en -moorde het Terre’Blanche gesê dis klaarpraat met boere as hulle “nie drasties van middele gebruik maak” om hul medeboere te waarsku en te beskerm nie.

“Sover het die polisie omtrent nog geen boer se dood gestuit nie. Hulle kan nie, of wil nie, of is nie bevoeg nie.

“Waar daar probeer is om ’n boer te vermoor en hy oorleef het, was dit bloot omdat iemand toevallig opgedaag het.

“Dan het hulle (die aanvallers) weggehardloop. Want hulle is lafaards, dié goed. Hulle maak jou dood, maar as die eerste lig op daai huis val, vlug hulle.”

Terre’Blanche het breedvoerig vertel van ’n organisasie, die Brandwag, wat die AWB gestig het om plaasaanvalle te probeer fnuik.

“As jy onder ‘A’ op my selfoon kyk, druk jy die knoppie vir ‘aanval’. Dié SMS gaan na 60, 70 boere wat alles los en na jou huis toe jaag.

“Ons het nou die dag in Middelburg die stelsel getoets, maar die boere het nie geweet dis ’n oefening nie.

“Omtrent 47 voertuie het binne vyf minute opgedaag.

“Ons gaan hulle (plaasaanvallers) looi. Ons gaan hulle looi.”

Terre’Blanche is gevra wat hy dink uiteindelik met wit mense in Suid-Afrika gaan gebeur.

“Bo alles is ek ’n gelowige mens. Die God wat my hierheen gebring het, my voorsate, het dit so gewil dat ons volk moet bly voortbestaan. En hier is ons nou?…

“Ons is nie van plan om ons te laat doodmaak nie.

“Jy moet weet ons kom uit vegters uit. Ons het almal militêre opleiding gehad. Die manne van so 30, 40 is gesoute soldate wat op die grense geveg het. Ek was twee maal daar, in Rhodesië en Suidwes-Afrika. In Rhodesië het ons die vyand by die Zambezirivier gaan keer.

“En nou is daai ouens wat ek daar gaan keer het hier, swem hulle in die Vaalrivier!”

Terre’Blanche het gesê die ou boere-spreekwoord lui “’n moë os stoot gou”.

“As die os moeg word, raak hy bedonnerd. Maak die boere maar seer en moeg genoeg. Ons gaan stoot – nie uit haat en nyd omdat ons wit en hulle swart is nie. Maar omdat ons nie doodgemaak en verkrag wil word nie.”

Die AWB-leier is gevra of die Afrikaner die afgelope 20 jaar sy vuur verloor het.

“Jy is reg, die hoë oktaan waarmee hulle geleef, geveg en gewerk het, is weg. Hulle loop nou nie meer op brandstof nie, maar op so ’n bie­tjie afvoerwatertjies.

“Maar hier is ’n nuwe gees. Ek dink die groot uittog van ons jong mense oorsee het die optimale punt bereik. Vir dié wat agterbly is ’n groot versugting dat die regse organisasies moet saamwerk.

“Ek is een van 10 bestuurslede van 29 regse organisasies.

“As ons die eenheid kan kry, word ons ’n magtige masjien.”

Terre’Blanche het gehuil toe hy vertel het van ’n Vrystaatse ma en dogter wat in Maart verlede jaar aangeval en verkrag is.

“Toe hulle klaar is met hul gruweldaad, slaan hulle ’n bottel stukkend. En druk dit van onder af in hul liggame in. Hulle het al twee doodgebloei.

“Julle het nie ’n idee wat gebeur nie. Hulle het nie gekom om kos te haal nie, of geld nie. Man, nie eens vir seks nie. Hulle het gekom om op die wreedste wyse te kom vernietig en te verkrag en dood te maak.”

Aan die einde van die onderhoud dra Terre’Blanche met sy diep baritonstem die gedig “Winternag” (1905) van Eugène Marais voor.

“O koud is die windjie

en skraal

En blink in die dof-lig

en kaal,

so wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterlig en skade?…”

Hy wys die rolprentspan dan rond in sy kantoor. Hy vertel hulle oor die simboliek van die AWB-kenteken, wys hulle ’n Vickers-masjiengeweer (van hout) en noem dat Napoleon, van wie hy ’n portret teen die muur het, een van sy helde is.

Dan vou hy sy arms. “Baie dankie, seuntjie,” sê hy voordat hy by die kantoor uitloop.

– Rapport

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Ons-sal-ons-nie-laat-doodmaak-20100410


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: