Farm Murders


ANC staan steeds agter Malema
April 5, 2010, 9:12 pm
Filed under: Uncategorized

2010-04-05 08:45

Lizel Steenkamp, Linda de Beer, Neels Jackson en Marga Ley; Beeld

Die ANC het gister opnuut sy gewig agter sy jeugleier, mnr. Julius Malema, gegooi terwyl pres. Jacob Zuma die “Skiet die Boer”-lied steeds nie regstreeks veroordeel nie.

Zuma het in ’n spesiale uitsending gisteraand op SABC3 die land tot kalmte gemaan ná die gru-moord op mnr. Eugène
Terre’Blanche, leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging.

Hy het dit as ’n lafhartige daad bestempel, maar het nie reguit na Malema verwys nie.

Volgens Terre’Blanche se familie, boere en AWB-lede hou die wrede aanval op hom direk verband met die haatspraak-liedjie teen boere deur Malema.

Politieke partye, met die uitsondering van die ANC, het Malema deur die bank veroordeel.

Lede van die AWB het gesê die moord op Terre’Blanche is ’n “oorlogsverklaring deur swart mense op wit mense”.

Terre’Blanche (69) is eergisteraand met pangas doodgekap terwyl hy op sy bed op sy plaas Witrandjiesfontein in die distrik Ventersdorp geslaap het.

Die AWB-leier het nog herstel van ’n onlangse groot operasie.

Sy gesig is onherkenbaar vermink deur die kapwonde. Daar was geen tekens dat hy hom probeer verweer of die houe probeer afkeer het nie.

Die panga is op die lyk gelaat waarna twee jong plaaswerkers die polisie van ’n buurplaas gebel en hulself oorgegee het.

Mnr. André Visagie, sekretaris-generaal van die AWB, het gister gesê die mense wat sy leier vermoor het, is jonk en van die mense wat direk deur Malema aangespreek word. “Ons beskou die moord as ’n oorlogsverklaring van swart mense.”

Hy het in ’n verklaring gesê die AWB gaan wraak neem op Terre’Blanche se moord. Hy het gesê hulle gaan lande wat aan WB 2010 deelneem, betrek by hul planne.

Van die mense wat gister voor Terre’Blanche se huis in Ventersdorp rondgestaan het, het gesê die feit dat die moordenaars hul wapen op Terre’Blanche se lyk gelos en hulself oorgegee het, is “uittartend”.

Zuma het gister “swart en wit” gevra om kalm te bly en ’n beroep gedoen op “leiers en organisasies” om nie Terre’Blanche se dood te gebruik om politieke punte te wen nie.

Terre’Blanche se weduwee, me. Martie Terre’Blanche, wou nie gister met Zuma of die media praat nie. Hy het toe sy simpatie met die gesin aan Terre’Blanche se dogter, Bea, oorgedra.

Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het die misdaadtoneel besoek.

Op ’n mediakonferensie, wat deur nog talle hooggeplaaste polisiebeamptes bygewoon is, is herhaaldelik gesê dat die moord deeglik deur die beste polisiespeurders ondersoek sal word.

Terre’Blanche het nog onlangs gesê hy “verklaar met veragting dat die ANC-regering en sy sogenaamde jeugbeweging onder Malema inderdaad oorlog verklaar het teen weerlose boervroue en -kinders”.

Hy het gedreig: “Óf sy (Malema) se leiers maak hom stil óf ons sal moet optree.”

Politieke leiers oor die spektrum heen het gister geëis dat pres. Jacob Zuma die “Skiet die Boer”-lied in die openbaar veroordeel en sy ANC-jeugleier in die bek ruk.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, het gisteroggend vanuit Dubai gesê hy sal sy pos as adjunkminister heroorweeg as die ANC-regering aanhou weier om te erken dat sy senior lede se opruiende uitsprake en vryheidsliedere nasiebou vernietig.

“Dat Zuma dié lied nog nie veroordeel het nie, is ’n ernstige fout. Jy kan dit nie losmaak van die atmosfeer wat tans heers nie.

“Die land kan ontplof.”

Selfs oudpres. FW de Klerk het gister aangevoer die lied skep ’n atmosfeer waarin “ontvanklike jong, swart plaaswerkers” kan voel sulke optrede is geregverdig.

Ook me. Helen Zille, DA-leier, het van Zuma geëis om in die openbaar standpunt teen haat- spraak in te neem.

“Liedere soos ‘Skiet die Boer’ skep ’n klimaat waarin geweld as ’n oplossing vir probleme gesien word, hetsy deur individue of as ’n kollektief.

“Ons moet nou, meer as ooit tevore, teen rasverdeeldheid waak,” het Zille gesê.

Die twee jong mans – ’n 16-jarige en ’n 21-jarige – sal môre in die hof verskyn in verband met die moord.

– Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/273dbcc88f0d4d7e8d506d069262042f/05-04-2010-08-45/ANC_staan_steeds_agter_Malema


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: