Farm Murders


Eugene Terre’Blanche op plaas vermoor
April 4, 2010, 10:38 am
Filed under: Uncategorized

Vermoor… Eugene Terre’Blanche in Desember verlede jaar by ’n saamtrek van die AWB in Ventersdorp. Foto: Rapport-argief

2010-04-03 23:24

Verslagspan

Die AWB-leier, mnr. Eugene Terre’Blanche (69), is gistermiddag vermoor in sy huis op sy plaas, Witrandjiesfontein, sowat 15 kilometer buite Ventersdorp in Noordwes.

“Ons het mnr. Terre’Blanche se lyk op sy bed gekry. Hy het veelvuldige beserings opgedoen – hy is erg vermink,” het kapt. Jaco Rautenbach, hoof van die speurtak op Ventersdorp, gisteraand uit die moordhuis aan Rapport gesê.

“Ons weet nie of hy aangeval is terwyl hy geslaap het nie. Ons het ’n kapmes op sy liggaam gekry.”

Rautenbach sê twee van Terre’Blanche se plaaswerkers is kort daarna op die plaas gearresteer. “’n Venster is gebreek en dit lyk of die aanvallers só toegang tot die huis verkry het.

“Dit wil voorkom of ’n twis oor geld aanleiding tot die aanval gegee het,” het Rautenbach gesê.

Terre’Blanche het die naweek alleen op die plaas deurgebring soos hy dikwels doen, het ’n vriendin van sy vrou, Martie, gisteraand uit die Terre’Blanche se huis in Ventersdorp aan Rapport gesê.

Sy was daar om mev. Terre’Blanche by te staan. “Hy het blykbaar lê en slaap toe hy met pangas doodgekap is.”

Die vrou, van ’n buurplaas, het aan Rapport gesê Martie Terre’Blanche is verslae. “Sy is ’n sterk vrou, maar sy is so wit soos ’n laken. Dit het nog nie by haar ingesink nie.

“Die dominee was hier en ek en ander gaan vanaand by haar slaap hier in die dorpshuis (langs die AWB-kantoor) in Ventersdorp.”

Volgens haar was Eugene se suster, Dora, en sy broer, Andries, gisteraand op die moordtoneel.

Hy is gistermiddag omstreeks 17:00 vermoor.

“Almal hier op die dorp is woedend en verslae.”

Volgens haar is vrese oor wraakaanvalle van enige aard egter ongegrond. “Die mense hier op Ventersdorp is nie rassiste nie. Ek is eerder bekommerd oor mense wat van elders af bel.”

Terre’Blanche is op 31 Januarie 1941 gebore. Tydens die laat sestigerjare het hy toenemend die liberale beleid van mnr. BJ Vorster, toe eerste minister van Suid-Afrika, beveg. Hy het in 1970 saam met ses ander die Afrikaner Weerstandbeweging gestig. Sy oratoriese vaardighede het hom die steun van groot getalle regsgesindes in die land besorg.

Terre’Blanche het die einde van apartheid as ’n oorgawe tot kommunisme beskou en het met ’n grootskaalse oorlog gedreig sou pres. FW de Klerk die mag aan mnr. Nelson Mandela en die ANC sou oorhandig.

Hy is op 17 June 1997 tot ses jaar gevonnis vir die aanranding op ’n petroljoggie en poging tot moord op ’n sekuriteitswag.

Hy was een van drie wit aangehoudenes in die Rooigrond-tronk naby Mafikeng, waar hy glo ’n wedergebore Christen geword het en na bewering baie van sy rassistiese sienings versag het. Terre’Blanche is op 11 Junie 2004 uit die tronk vrygelaat.

Terre’Blanche het in Februarie vanjaar nog die ANC-regering as ’n “teelkraal” beskryf wat “toelaat dat ons wit mense deur werklose skurke uitgemoor word”.

“Hulle steel nie meer van ons nie, maar hulle maak ons doelbewus dood om ons te demoraliseer,” het Terre’Blanche op ’n AWB-byeenkoms aan sowat 300 mense gesê.

Mev. Helen Zille, leier van die DA, het gisteraand die moord as ’n “absolute tradgedie” beskryf. “Geweld is geen oplossing vir ons land nie. Die tragiese is dat ekstremiste aan albei kante die klimaat geskep het. Dit kan net tot polarisasie lei, wat ons in 1994 vermy het. ”

Mnr. Dave Steward, woordvoerder van die FW de Klerk-stigting, het gesê: “Die realiteit is dat die klimaat in die land naby aan kookpunt is. Dit is moeilik om nie te sien dat sy moord nie verband hou met die ‘skiet die boer’-liedjie nie.

“Almal moet bedaar en die aard van die debat versag soos oudpres. FW de Klerk ’n paar weke gelede per brief aan pres. Jacob Zuma gesê het. Hy Zuma aangemoedig om as president gevoelens te kalmeer. Ongelukkig het dit nie gebeur nie.

“Wat nou gebeur het is baie gevaarlik. Mense is verskriklik opgesweep aan beide kante. Ongelukkig is dit die ANC wat die klimaat geskep het deur Malema se optrede goed te praat.”

Die vakbond Solidariteit se menseregte-inisiatief AfriForum het gesê die moord op Terre’Blanche is ’n wekroep tot al die mense van Suid-Afrika om tot besinning te kom en kennis te neem van die uiters gepolariseerde en gewelddadige omstandighede waarin die land hom tans bevind.

“Alle gemeenskappe moet hulle weerhou van onverskillige uitsprake en van die romantisering van geweld,” het mnr. Willie Spies, AfriForum-woordvoerder, gesê.

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Content/Suid-Afrika/Nuus/2315/a9059a4ba151499ab966092e9c2902e7/03-04-2010-11-24/Eugene_TerreBlanche_op_plaas_vermoor


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: