Farm Murders


Man in bors gesteek toe hy aanvaller uit rolstoel takel
March 23, 2010, 5:33 pm
Filed under: Uncategorized

Mnr. Ryno Koekemoer van Welkom in sy rolstoel voor die motorhuisdeur wat deur ’n inbreker oopgebreek is. Mnr. Koekemoer het die man wat hom bestorm het, vanuit die rolstoel getakel, en is met ’n mes in die bors gesteek.

2010-03-22 01:16

WELKOM. – Om sy vrou ’n kans te gee om in die veiligheid van hul huis te kom, het ’n man van Welkom, wat aan ’n rolstoel gekluister is, ’n aanvaller vanuit dié rolstoel getakel. In die worsteling wat gevolg het, is hy met ’n mes in die bors gesteek.

Die vlymskerp meslem het mnr. Ryno Koekemoer (36) se hart net gemis, en sy vrou, Rina (34), is in die rug gesteek toe sy deur die aanvaller tot by die oop deur van hul huis agtervolg is.

Die egpaar se trauma het egter nie daar geëindig nie. Mev. Koekemoer moes haar broer, mnr. C.P. Gildenhuys, op Winburg bel om iemand in Welkom te bel om hulle te kom help, omdat hulle nie na die polisie kon deurkom nie.

“Ons dank die Here dat ons nog hier is vandag. Dit kon soveel erger gewees het. Ek is bitter dankbaar hulle het nie my vrou verkrag nie,” sê mnr. Koekemoer.

Rina vertel hulle was omstreeks 21:15 reeds in die bed in hul huis in Riebeeckstad toe sy opstaan om vir hulle tee te maak. Sy het iemand buite hoor praat en het die voordeur oopgemaak.

Ryno het vanuit die kamer geskreeu sy moet die deur toemaak. Hy het met sy rolstoel by haar aangekom en hulle is saam na buite.

Die motorhuisdeur, waar twee maande gelede ingebreek is, was weer oopgebuig. ’n Man het mnr. Koekemoer skielik vanuit die motorhuis bestorm. Mnr. Koekemoer het hom uit die rolstoel in ’n duikbeweging om die lyf gegryp.

Die rolstoel het omgeslaan en mnr. Koekemoer is in die worsteling in die bors gesteek. Hy het vir sy vrou geskreeu om te vlug.

Sy het tot by die oop deur van die huis gekom toe die man haar van agter met ’n mes in die rug gesteek het. Haar bladbeen is oopgevlek.

Die aanvaller, wat moontlik makkers gehad het, het weggehardloop en sy het na die bure aan weerskante van hul huis geroep. Niemand het kom help nie.

Sy het toe die noodnommer 10111 gebel. Die operateur het vir haar gesê sy kry nie die polisiekantoor in Riebeeckstad in die hande nie.

Rina het daarna haar broer op Winburg gebel, wat past. Braam Fourie van die AGS-kerk in Riebeeckstad gebel het. Fourie het op sy beurt die ER24-ambulansdiens en die sekuriteitsonderneming Shepherd Alarms gebel. Hulle was binne minute by die huis, met die polisie wat later daar aangekom het.

Die egpaar is ná behandeling uit die hospitaal ontslaan.

– Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/77589e5ed08347309be3a2d055a79dad/22-03-2010-01-16/Man_in_bors_gesteek_toe_hy_aanvaller_uit_rolstoel_takel


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: