Farm Murders


3 polisiekantore, 1 kaping, geen aksie
June 28, 2009, 6:13 am
Filed under: Uncategorized

Mev. Stienie Potgieter vertel hoe sy en haar man, Dries (Nollie), die naweek gekaap en ontvoer is. Foto: Leon Botha

Jun 23 2009 08:22:03:183PM – (SA)

Hilda Fourie

’n Gekaapte egpaar van Pretoria is gestrand gelaat nadat nie een van drie polisiekantore op hul noodkreet gereageer het nie.

Al drie dié polisiekantore – Akasia, Silverton en Boschkop – het gister aan Beeld bevestig hulle ondersoek die saak.

Drie mans het mev. Stienie Potgieter (63) en haar man, Dries (Nollie, 70), Saterdag omstreeks 18:15 voor hul huis in Heatherdale, in die noorde van Pretoria, gekaap.

Mev. Potgieter het uit die motor geklim om die hek oop te maak toe die mans in ’n afleweringsvoertuig agter hulle stilhou.

Twee gewapende mans het uit die afleweringsvoertuig gespring.

Hulle het mev. Potgieter teen die muur by die hek laat sit en haar man uit hul Mercedes-Benz Kompressor geruk en hom teen ’n telefoonpaal laat sit.

’n Voertuig wat in die pad af gery het, het die mans vermoedelik laat skrik waarna hulle die egpaar in die afleweringsvoertuig ingedwing het. Hulle is nie vasgemaak nie.

Een van die kapers het die Mercedes-Benz bestuur. Hy het ’n lang ruk agter die afleweringsvoertuig gery waarna hy verdwyn het.

Die kapers het sowat drie uur lank met die Potgieters rondgery, onder meer in Mamelodi, oos van Pretoria. ’n Vuurwapen is heeltyd op hulle gerig.

Een kaper het vir mev. Potgieter gesê hulle is nie moordenaars nie, hulle wil net die motor hê.

“Dit was so donker. Kort-kort het ek my man se hand hier langs my gevoel. Dan druk ek dit so ’n bietjie dat hy net rustig kan wees,” het mev. Potgieter gesê.

Die kapers het die egpaar eindelik op ’n grondpad naby die Sammy Marks-museum afgelaai.

“Toe ek die bome en bosse sien, het ek gedink hier gaan hulle ons doodskiet en verkrag,” het sy gesê.

“Nadat hulle ons uitgelaai het, het ek my man se hand gevat en vir hom gesê om sy oë toe te maak en te loop. Ons het net gehoor hoe hulle ry.”

Die egpaar het by ’n huis ’n paar honderd meter verder gaan hulp vra.

Dié mense het die Silverton- én Boschkop-polisiekantoor gebel, maar niemand het uitgekom nie. Albei het gesê dit val in die ander polisiekantoor se gebied.

Beeld het vasgestel dié gebied val in die Silverton-polisiekantoor se jurisdiksie.

Die egpaar se dogter, Yonelda, het hulle gaan haal waarna hulle na die Akasia-polisiekantoor is. Die egpaar is daar mooi gehelp.

Niemand is egter van dié polisiekantoor na die Potgieters se huis gestuur nadat hul seun, Andries, hulle as vermis aangemeld het nie.

Polisie se kommentaar

Akasia-kantoor sê:

Supt. Sam Seleke, stasiebevelvoerder, sê hy weet nie wat het gebeur dat die patrollievoertuig nie na die Potgieters se huis is nie. “Dit blyk dat hy nie die adres kon kry nie. Die polisielede ken die gebied, dus sal ondersoek word wat fout gegaan het.”

Silverton-kantoor:

Sr.supt. Charles Matji, stasiebevelvoerder, sê hy het by Beeld die eerste keer van die voorval gehoor. Hy sal ondersoek instel.

Boschkop-kantoor sê:

Sers. Marinda Stoltz, woordvoerder, sê dit blyk dis ’n student wat Saterdagaand die telefoon geantwoord het en nie die boodskap reg oorgedra het nie.

“Al is dit nie in ons jurisdiksie nie, sal ons mense uitgaan en op die toneel wag tot die regte polisiekantoor se mense opdaag.

“Indien dit blyk dat die student nie haar werk gedoen het nie, sal sy departementeel aangekla word. Die saak word ondersoek,” het Stoltz gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2532815,00.html


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: