Farm Murders


‘Hy het roof en moord wél beplan’
April 1, 2009, 8:04 am
Filed under: Uncategorized

Mnr. Koos van Rensburg, Estée van Rensburg se pa, gister by die hof. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Mar 31 2009 07:31:14:437PM – (SA)

Herman Scholtz

Aaron Mashishi was betaal om die gemeenskap te beskerm, maar hy het besluit om eerder me. Estée van Rensburg (19) te beroof en te vermoor en dáárvoor moet hy lewenslank in die tronk sit.

So het adv. J.P. Marais, staatsaanklaer, gesê tydens die vonnisverrigtinge van Mashi?shi (31), ’n veiligheidswag.

Waarnemende regter Sulette Potterill van die Pretoriase hooggeregshof het hom skuldig bevind op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en 11 aanklagte van diefstal. Hy sal vandag gevonnis word.

Mashishi het Van Rensburg op 25 Maart 2008 in haar ouerhuis in Faerie Glen, Pretoria, beroof toe sy vir die veiligheidswag die deur oopgemaak het. Mashishi het haar daarna in die kop geskiet, teruggegaan werk toe en later gevlug met haar Toyota Tazz vol gesteelde goedere, waar onder elektroniese toerusting en ’n nagrok.

Potterill het Mashishi se weergawe dat ene Ndoda die baasbrein agter die roof was en uiteindelik die een was wat die skoot (met Mashishi se diensrewolwer) afgevuur het, verwerp.

Ndoda, wat ook “man” beteken, bestaan nie, het Potterill bevind. Mashishi het hom nog nie weer sedert die moord gesien of van hom gehoor nie en hy weet ook nie wat Ndoda se regte naam is nie.

Potterill het in haar uitspraak gesê Mashishi se weergawes is so onwaarskynlik dat dit verwerp moet word.

Sy het gesê Mashishi het doelbewus die oggend van die moord na die Van Rensburgs se huis gegaan om inligting in te win voordat hy later teruggekeer het om die rooftog en moord uit te voer.

“Hy het ook geweet hy sal maklik aan sy uniform en die motor (van die veiligheidsmaatskappy waarvoor hy gewerk het) herken word. Sy bedoeling was om te roof en te steel.”

Adv. Eric Pitso, namens Mashishi, het gevra vir ’n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf vir moord met direkte opset. Hy het aangevoer Mashishi is ’n eerste oortreder, toon berou en het van die begin af skuld beken op aanklagte van roof en diefstal.

Marais het egter die swaarste moontlike straf bepleit.

Dr. André Botha, Van Rensburg se oom wat ook haar roudiens waargeneem het, het gesê sy was ’n saggeaarde mens.

“Sy’t in my huis grootgeword. Dit was die mooiste, sagste mens. Sy sou vir hom (Mashishi) enigiets gedoen het.”

Mnr. Koos van Rensburg, haar pa, het buite die hof gesê sy vrou, Linda, kuier in Engeland by haar ander kinders om die trauma van die hofsaak te vermy. Die kinders gaan ná die moord op hul suster nie meer uit die buiteland terugkeer nie.

“Dis darem ’n bietjie geregtigheid,” het hy ná die skuldigbevinding gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2494671,00.html


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: