Farm Murders


‘Jy sal ook kanker kry as jy my verkrag’
March 28, 2009, 1:46 am
Filed under: Uncategorized

Mar 27 2009 09:13:38:253PM – (SA)

Jeanne-Marié Versluis

’n Gimnastiekafrigter wat aan velkanker ly, het gister gekeer dat ’n rower haar verkrag deur hom te waarsku hy gaan haar kanker kry as hy seks met haar het.

Die rower het mev. Helene van Zyl (54) sowat ses keer met sy vuurwapen in die gesig gekap, so erg dat die skroefies waarmee haar kunstande aan haar kaak vas is, losgekom het.

Sy sê sy is baie fiks en het vuurwapenopleiding en selfverdediging op haar kerfstok, “maar as jy vier Parabellums (’n soort pistool) onder jou ken kry, wat maak jy?”

Vier rowers het ’n gat in die rykmanslandgoed Mooikloof se enkelbaksteenmuur geskop en by die egpaar se dubbelverdiepinghuis ingekom, het mnr. Willie van Zyl (57) gesê.

Hulle het die egpaar om 02:45 in hul slaapkamer oorval.

“If you make a mess, we will shoot you,” het hulle die egpaar gewaarsku.

Mev. Van Zyl het gesê sy wou die noodknoppie druk, maar die rower aan haar kant van die bed het dit gegryp, dit in die vullishouertjie gegooi en haar in die gesig geslaan.

Die ander drie rowers het haar man aangerand.

Die egpaar se hande en voete is met breë kleefband vasgemaak. Mnr. Van Zyl is ook met die haardroër se koord vasgemaak. Sy mond is toegeplak.

Die aanvallers het geld geëis. Toe mev. Van Zyl sê dit is in hul kantoor, het die rower by haar gesê: “You lie, you white bitch.”

“Die hele bed was net bloed” toe haar man geslaan is, het sy gesê.

Sy het gesê die rowers kan ’n beursie met geld kry en gewaarsku Coin-sekuriteit is op pad.

Omdat haar voete vasgemaak was, moes sy spring om tot by die beursie te kom. Die rowers het haar by die trappe afgeskop.

“Hulle het die beursie uitgedop en gesê dis nie genoeg nie. ‘We know you’ve got a lot of money,’ het hulle gesê.”

’n Rower het haar pajamabroek afgetrek.

“I have cancer. You will also get cancer. Don’t have intercourse with me,” het sy hom gewaarsku.

Haar man het aangebied om al die geld vir hulle te gee en gepleit dat hulle haar uitlos omdat sy baie siek is.

Drie rowers het hom na die kluis geneem. Die rowers het al die geld daaruit gehaal en toe oor die verdeling daarvan gestry.

Hulle is ook met die egpaar se vier vuurwapens, selfone en al mev. Van Zyl se juwele daar weg.

Met die wegkomslag het hulle die elektriese heining geknip, het mnr. Van Zyl gesê.

“Hulle het my kop oopgeslaan, maar my gesig (se swelling) begin nou sak.”

Volgens hom het die ontwikkelaar ’n “patetiese” muur om die landgoed gebou. “Dit moes ’n dubbele ry bakstene gewees het.”

Die landgoed se kantoor wou nie gister die ontwikkelaar, wat ook daar woon, se kontaknommers aan Beeld gee sodat sy kommentaar verkry kon word nie.

Sers. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het ook met buitelandse geld weggekom. Hulle is almal in hul vroeë 30’s.

Niemand is nog gevang nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2492910,00.html


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: