Farm Murders


Tuinier ontvoer vroue
February 19, 2009, 8:34 am
Filed under: Uncategorized

Mnr. Henk Myburgh jr. (links) word deur sy beste vriend, mnr. Rudie Loubser (30), buite sy ouerhuis in Bronkhorstspruit ondersteun. Foto: Theana Calitz

Feb 18 2009 09:16:28:507PM – (SA)

Virginia Keppler

Drie vroue het wonderbaarlik oorleef nadat hulle ontvoer is, een in die kop geskiet is, ’n tweede in die mond en die derde saam met die ontvoerders in ’n motorongeluk was.

“Dit was die tuinier,” het ’n bebloede mev. Anna Jacoba Myburgh (55) van Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, gesê. Beeld het gister, sowat vier uur ná die ontvoering, langs ’n grondpad op haar en ’n weldoener, mnr. Douwe Steyn, afgekom.

“Ek weet nie waar Edri (Myburgh, haar skoondogter) is nie. Ek weet nie waar hulle haar afgelaai het nie. Hulle het my in die kop geskiet en toe langs die pad uitgegooi.

“Ek het tot in die pad op my knieë gekruip. Ek het heeltyd net gebid dat die Here my moet help. My huishulp (me. Paulina Moyana) is nog in die motor.” Steyn het haar hospitaal toe geneem.

’n Ent verder het Beeld op die polisie en ’n huilende Moyana (26) langs die motorwrak afgekom.

Sowat 3 km daarvan het Beeld ’n bloekomboom gekry met twee groot bloedkolle daaronder. Op een bloedkol het ’n hangertjie en bril gelê.

Kapt. Simon Petrus Mashiloane, polisiewoordvoerder, het gesê die Myburghs se tuinier het gisteroggend saam met ’n makker by hul huis opgedaag.

Hulle het die huishulp en Myburgh sr. oorval en geld geëis. Myburgh jr. (26) het daar aangekom en is ook oorrompel.

“Daarna het die aanvallers die vroue in mev. Myburgh jr. se motor gelaai en sowat 53 km ver met hulle na Ogies gery.

“Hulle met mev. Myburgh sr. se bankkaart geld by ’n kitsbank getrek.”

Die rowers het daarna na Witbank gery, waar hulle ’n tjek van Myburgh sr. wou wissel, maar hulle het kop uitgetrek omdat hulle bang was sy sou in die bank alarm maak, het Mashiloane gesê.

Die rowers het toe met die Balmoral-pad in die rigting van Bronkhorstspruit gery. By die Spitskop/Sarita-pad het hulle afgedraai en sowat 10 km op ’n grondpad gery.

Onder die bloekomboom is Myburgh sr. en jr. vermoedelik uit die motor gehaal. Myburgh sr. is in die been gesteek en in die kop geskiet, terwyl haar skoondogter in die mond geskiet is.

Volgens Mashiloane het die rowers daarna met Moyana teruggery en gestry oor wat om met haar te doen toe hulle sowat 3 km van die bloekomboom ’n ongeluk gemaak het.

Myburgh jr. het in die paaie in die omgewing sowat 18 km ver geloop voordat sy deur ’n boer opgelaai is. Sy was sonder skoene en in net haar onderklere, het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Twee mans het intussen op die ongelukstoneel afgekom en hulp aangebied. Toe Moyana skreeu hulle is skelms, het die aanvallers weggehardloop.

Die vermeende rowers, 23 en 28 jaar oud, het weggehardloop, maar is kort daarna in die omgewing gearresteer.

Myburgh sr. se man, Hans (55), het gesê hy het net voor 09:00 ’n oproep van sy seun, Henk (30), ontvang oor iets wat nie reg is by sy huis nie.

Hy het bloed in die huis gekry en dadelik gereageer. Mnr. Myburgh sr. het eers om 15:00 gehoor sy vrou is lewend en in die hospitaal.

Die Myburgh-vroue is later na die Pretoria-Oos-hospitaal oorgeplaas, waar Myburgh jr. ’n noodoperasie ondergaan het om die koeël te verwyder wat agter in haar nek vasgesit het.

Myburgh sr. se kakebeen is vergruis en die koeël sit nog tussen haar kake vas, het ’n familielid gisteraand gesê. Die swelling moet eers sak voordat iets daaraan gedoen kan word.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van roof, ontvoering en poging tot moord.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2472302,00.html


1 Comment so far
Leave a comment

My skoon ouers wat na my eertse geboorne van 4 maande kyk is net n klipgooi van die voorval af, in daai omgewing van BHS was daar die afgeloope maand ten minste 5 sulke aanvalle in n 4 blok radius. Julle het my volle meegevoel en ek dink dat dit gebeur omdat die polisie van BHS olv Sheltons (SAPS BHS) versuim om hule werk te doen. Dit is mos duidelik vir enige mens met n klein bietjie denk krag dat daar iets meer as net n voorval aan die gang is. As die polisie voertuie aangewend was vir polisie patrollies en pligte en nie vir “shopping” nie kan daar dalk beter flinker resultaate wees. Wat moet ons as belasting betaalers en as blanke Suid Afrikaaners dan doen as die polisie niks doen nie????

Comment by Anonymous




Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: