Farm Murders


Pa antwoord nie en toe kry seun sy lyk
February 17, 2009, 7:12 am
Filed under: Uncategorized

Mnr. Johnnie Cilliers (41) vee sy trane af terwyl hy vertel hoe hy op sy pa, Doppie (66), se lyk afgekom het. Foto: Herman Verwey

Feb 16 2009 09:33:09:840PM – (SA)

Virginia Keppler

‘Ek het soos ’n mal mens op en af gehardloop voordat ek besef het ek moet die polisie bel.”

So het ’n geskokte mnr. Johnnie Cilliers (41), ’n skaapboer van Bronkhorstspruit, gister huilend vertel nadat hy op die lyk van sy pa, ’n prokureur van die dorp, afgekom het.

Mnr. Stephanus (Doppie) Cilliers (66) het op dieselfde kleinhoewe as sy seun gewoon.

“Ek moes my pa om 08:00 na die Cullinan-hof toe neem omdat hy sy bakkie vir my suster geleen het. Toe ek by die huis aankom, was die voordeur toegetrek, maar nie gesluit nie.”

Cilliers jr. het sy pa geroep, maar daar was nie antwoord nie. Hy het die voordeur oopgestoot.

“My pa het binne by die voordeur gelê. Daar was bloedspatsels rondom sy lyk.”

Cilliers sr. is in die bolyf geskiet, sy hande én voete is vasgebind en hy is vermoedelik ook verwurg. Hy het net die broek wat hy die vorige dag gedra het aangehad.

“Ons het ook nog nooit in die afgelope sewe jaar enige voorvalle op die kleinhoewe gehad nie.”

Volgens Cilliers jr. het hy die vorige aand die honde hoor blaf, maar het nie onraad vermoed nie omdat die honde gereeld blaf.

“Ek is my pa se enigste seun en ons was baie na aan mekaar. Ons het altyd saam perdgery en dinge gedoen,” het ’n sigbaar ontstelde Cilliers jr. gesê.

Mnr. Johan Paulsen (42), ’n prokureur wat meer as 15 jaar lank saam met Cilliers sr. gewerk het, het gesê: “Ek was in die hof besig toe ek gehoor het my vriend is vermoor. Ek is baie geskok. Ons is soos ’n familie by die hof op Cullinan.”

Hy het gesê hy en Cilliers sr. het Vrydag nog gesels oor krieket en ander dinge. Cilliers sr. het die meeste van sy werk by dié hof gedoen.

Mnr. Johannes Jafta, polisiewoordvoerder, het gesê Cilliers sr. se selfoon, ’n vuurwapen en jaggeweer word vermis.

Die polisie het gister die moordhuis op die kleinhoewe gefynkam op soek na leidrade wat hulle op die spoor van sy moordenaars kon bring.

Hulle het spore agter Cilliers sr. se huis gevolg. ’n Polisiehelikopter is ingespan om uit die lug foto’s van die kleinhoewe te neem. Daar is ook vingerafdrukke in die huis geneem.

Speurders het in die moordhuis op ’n kombers en klein tassie afgekom wat in ’n bad vol water in Cilliers sr. se badkamer gevind is.

“ ’n Nadoodse ondersoek gaan gedoen word om vas te stel presies waaraan die slagoffer dood is,” het Jafta gesê.

Cilliers sr. se dogter mev. Renate van Zyl (46) sou gister van Dundee in KwaZulu-Natal na haar pa sy huis ry. Sy ander dogter, mev. Stephanie Church (42), woon op Cullinan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2470951,00.html


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: