Farm Murders


‘Rower wou ná skoot verkrag’
February 14, 2009, 2:56 am
Filed under: Uncategorized

Feb 13 2009 09:01:11:440PM – (SA)

Virginia Keppler

‘Nadat hulle my man doodgeskiet het, het een (rower) my nagrok opgelig en onder ingekyk, seker om my te verkrag, maar toe sê die ander een vir hom hy moet dit los.”

Só het mev. Daphne Boshoff van Kameeldrift, noordoos van Pretoria, gister vertel ná die nagmerrie-aanval waarin haar man, Reinier (67), voor haar oë doodgeskiet is.

Boshoff het gesê hulle word sedert verlede November geteister.

“Eers het hulle twee keer klippe deur ons kamervenster gegooi.

“Later het hulle die alarm aanhoudend laat afgaan. Ons het toe maar besluit om dit party aande heeltemal af te skakel sodat ons net kan slaap.

“Die aand voor die aanval het ons weer die alarm afgeskakel,” het sy gesê.

Boshoff het gesê sy weet nie presies wat gebeur het nie, maar tussen 01:20 en 02:00 het sy wakker geword en drie mans in hul slaapkamer gesien.

“Ek het wakker geword toe hulle die lig aanskakel. Ek het uit die bed gespring en vir hulle gevra: ‘Wat wil julle hê?’

“Dit was vir my ’n geweldige skok om hulle in die kamer te sien. Een van die mans het ’n vuurwapen by hom gehad.

“My man het wakker geword en probeer regop staan toe hy met een skoot in die kop geskiet is. Hy het langs die bed op die grond geval.”

Sy het gesê haar man was nog deur die slaap en sy dink nie hy het besef wat gebeur nie.

Sy het net doodstil gestaan. “Toe die skoot klap, het ek nie eens geskreeu nie, want ek het al soveel keer in koerante en tydskrifte gelees dat mens net moet stilbly en saamwerk as jy aangeval word.

“Een van die rowers het toe my nagrok opgelig. Die vernedering . . . Ek was so bang. Toe sê ’n ander een vir hom: ‘Leave it.’ ”

Die moordenaar het Boshoff aan haar hand gevat en beveel om op die bed te gaan sit. Hy het geld, vuurwapens en juwele gevra.

“Hy het oor my man se kop geklim en onder die kussing vir ’n vuurwapen gesoek. Hulle het tot die matras opgelig om te kyk of daar nie ’n vuurwapen is nie.

“Daarna het die skieter oor my man geklim, die hangkas se deur oopgemaak en my man se leerbaadjie aangetrek.”

Boshoff het gesê die mans het die hele huis deurgesoek en omgekrap vir waardevolle goedere. “Ek kon nie eens ’n been beweeg sonder dat hulle my gewaarsku het om stil te sit nie. Ek het hulle gevra vir ’n bietjie water, maar toe sê hulle ek moet ‘shut up’.

“Hulle het ook heeltyd die vuurwapen op my gerig.”

Die aanvallers het Boshoff se hande en voete met toue vasgebind. “Een het gesê: ‘You must sleep’, en toe stap hy deur toe.

“Ek het gedink hy gaan my skiet, maar toe trek hy net die deur toe.”

Die aanvallers het daarna eers kos in die egpaar se kombuis geëet voordat hulle gevlug het.

“Toe dit stil raak, het ek daarin geslaag om die das van my mond af te woel. Ek het na my man geroep en gehoop hy het gemaak asof hy dood is, maar hy het nie geantwoord nie.”

Boshoff het haar voete ’n bietjie losgewoel en kombuis toe gehink. Dit was toe reeds 05:45. Sy het sowat 15 minute lank aanhoudend om hulp geskreeu totdat haar bure haar gehoor het.

“Ek weet nie wat ek nou ná 38 jaar van getroude lewe gaan doen nie. My man het elke oggend vir my koffie gemaak. My maatjie is weg,” het Boshoff saggies gesê en daarna bygevoeg dat die doodstraf terug moet kom.

“As hulle (aanvallers) met ons kan maak wat hulle wil en ons dood maak, moet hul lewens ook geneem word.”

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie.

Mnr. Boshoff word oormôre om 11:00 uit die NG kerk Kameeldrift begrawe. Hy laat sy vrou en seuns, Reinier jr. (28), Werner (25) en Marius (24), agter.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2469746,00.html


Leave a Comment so far
Leave a comment



Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: